Tuesday, April 6, 2010

Die mens sterf uit- deur sy eie toedoen...


Die mens en alle soogdiere se toekoms op aarde is in die weegskaal. Of die mens nog verder sal evolueer en uiteindelik sal oorleef, is onseker. Die mens is maar nog net 200 000 jaar op die planeet en het in hierdie kort tydjie daarin geslaag om verwoesting te saai.

Die vernietiging van die osoonlaag deur middel van petrolaangedrewe motors, verbrakking van grond weens mynbou-aktiwiteite, asook verwoesting van natuurlike plantegroei deur aanbou van fabrieke, is slegs enkele voorbeelde hiervan.

Hierdie tipe van vernietiging lei tot die uitsterf van spesies. Navorsing bewys dat spesies geleidelik uitsterf, maar ook uitgewis kan word deur kortstondige massa-uitwissingsgebeurtenisse, byvoorbeeld tsunamies, orkane, vloede, aardbewings, vulkaniese uitbarstings ensovoorts. Alle spesies, ongeag grootte, is egter kwesbaar en die tempo van uitwissing is 10 000 keer vinniger as normaal- tot 50% van spesies kan teen 2050 uitgesterf wees. Wat hierdie feite meer skrikwekkend maak is dat daar beweer word dat indien daar wêreldwyd drie jaar na mekaar misoeste sou wees, die mens sal uitsterf.

Stem jy saam met die stelling dat die mens uitsterf deur sy eie toedoen? Gee jou opinie oor hierdie onderwerp.